2 Maar Nahas, die Ammoniet, het vir hulle gesê: Op hierdie voorwaarde sal ek die verbond met julle sluit, dat ek julle almal die regteroog uitsteek en dit as ’n skande op die hele Israel kan lê.
3 Toe sê die oudstes van Jabes vir hom: Laat ons sewe dae lank met rus, dat ons boodskappers in die hele gebied van Israel kan stuur; as daar dan niemand is wat ons verlos nie, sal ons na u toe uittrek.
4 En die boodskappers het in Gíbea van Saul gekom en die woorde voor die ore van die volk gespreek. Daarop verhef die hele volk hulle stem en ween.
5 Toe kom Saul juis aan agter die beeste van die veld af, en Saul sê: Wat is dit met die volk, dat hulle ween? En hulle vertel hom die woorde van die manne van Jabes.
6 En die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde hoor, en hy het baie kwaad geword.
7 En hy het ’n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie — so sal met sy beeste gedoen word. Toe val die skrik van die Here op die volk en hulle trek soos een man uit.
8 En hy het hulle gemonster in Besek: die kinders van Israel was driehonderdduisend en die manne van Juda dertigduisend.