1 TOE sê Samuel vir Saul: Die Here het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die Here.
2 So sê die Here van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Ámalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.
3 Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
4 Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: tweehonderdduisend voetgangers en tienduisend man van Juda.
5 En toe Saul by die stad van Ámalek aankom en in die dal ’n hinderlaag opstel,
6 sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit.
7 En Saul het die Amalekiete verslaan van Háwila af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê.
8 En Agag, die koning van Ámalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref.
9 Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was — dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.
10 En die woord van die Here het tot Samuel gekom en gesê:
11 Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die Here aangeroep.
12 Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom ’n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na Gilgal.
13 Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die Here: ek het die woord van die Here uitgevoer.
14 Daarop vra Samuel: Maar wat vir ’n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ’n gebulk van beeste wat ek hoor?
15 En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.
16 Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die Here vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.
17 En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die Here het jou as koning oor Israel gesalf.
18 En die Here het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.
19 Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?
20 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.
21 Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.
22 Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
23 Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.
24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die Here en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.
25 Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die Here kan aanbid.
26 Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die Here verwerp het, en nou het die Here jou verwerp om koning oor Israel te wees.
27 Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur.
28 En Samuel sê vir hom: Vandag het die Here die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.
29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.
30 En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die Here u God kan aanbid.
31 Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het die Here aanbid.
32 Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Ámalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk.
33 Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die Here in Gilgal.
34 Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul.
35 En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die Here het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.