25 En al die mense het in ’n bos gekom, en daar was heuning op die veld.
26 Toe die manskappe in die bos kom, was daar oorvloed van heuning; maar niemand het met sy hand aan sy mond geraak nie, omdat die manskappe bevrees was vir die eed.
27 Maar Jónatan het nie gehoor toe sy vader die manskappe besweer het nie en het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in ’n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gebring, en sy oë het helder geword.
28 Daarop spreek een van die manskappe hom aan en sê: Jou vader het die manskappe met hierdie dure eed besweer: Vervloek is die man wat vandag iets eet. Daarom is die volk afgemat.
29 En Jónatan sê: My vader stort die land in die ongeluk; kyk tog hoe helder my oë nou is, omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het.
30 Hoeveel te meer as die manskappe vandag vry kon eet van die buit van hul vyande wat hulle gevind het! Maar nou is die slagting onder die Filistyne nie groot nie.
31 Maar dié dag het hulle die Filistyne verslaan van Migmas af na Ájalon toe, en die manskappe was baie afgemat.