4 Nou was daar tussen die passe waar Jónatan wou deurgaan na die wagpos van die Filistyne, ’n spits rots oorkant en ’n spits rots duskant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander Sene.
5 Die een spits staan soos ’n pilaar noord teenoor Migmas, en die ander een suid teenoor Geba.
6 Jónatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die Here vir ons optree, want by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.
7 Toe sê sy wapendraer vir hom: Doen alles wat in u hart is, maak soos u wil; hier is ek by u volgens die wens van u hart.
8 Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon.
9 As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie.
10 Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die Here hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees.