41 Toe sê Saul aan die Here: God van Israel, gee tog die waarheid! En Jónatan en Saul is aangewys, maar die manskappe het vry uitgegaan.
42 En Saul sê: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is aangewys.
43 Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net ’n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe.
44 Toe sê Saul: Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen, jy moet sekerlik sterwe, Jónatan!
45 Maar die manskappe het aan Saul gesê: Moet Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen. So het die volk dan Jónatan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie.
46 Daarna het Saul agter die Filistyne teruggetrek, en die Filistyne het na hulle plek gegaan.
47 SO het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen.