45 Maar die manskappe het aan Saul gesê: Moet Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen. So het die volk dan Jónatan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie.
46 Daarna het Saul agter die Filistyne teruggetrek, en die Filistyne het na hulle plek gegaan.
47 SO het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen.
48 En hy het hom dapper gedra: hy het Ámalek verslaan en Israel gered uit die hand van sy berower.
49 En die seuns van Saul was Jónatan en Jiswi en Malkisúa, en die naam van sy twee dogters: die naam van die oudste was Merab, en die naam van die jongste Migal.
50 En die naam van Saul se vrou was Ahínoam, ’n dogter van Ahímaäs; en die naam van sy leërowerste was Abner, die seun van Ner, die oom van Saul.
51 En Kis was die vader van Saul, en Ner, die vader van Abner, was die seun van Abíël.