1 DAARNA sê die Here aan Samuel: Hoe lank sal jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel? Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Ísai, die Betlehemiet, want Ek het onder sy seuns vir My ’n koning uitgesoek.
2 Maar Samuel vra: Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak. Toe sê die Here: Neem ’n jong koei met jou saam en sê: Ek kom om aan die Here te offer.
3 Nooi Ísai dan na die offermaaltyd, en Ek sal jou bekend maak wat jy moet doen, en jy moet die een vir My salf wat Ek jou sal noem.
4 En Samuel het gedoen wat die Here gespreek het; en toe hy by Betlehem aankom, het die oudstes van die stad hom bewend tegemoetgegaan en gevra: Is u koms vrede?
5 En hy sê: Vrede! Ek kom om aan die Here te offer; heilig julle, en kom met my saam aan die offermaaltyd. En hy het Ísai en sy seuns geheilig en hulle na die offermaaltyd genooi.
6 Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die Here sy gesalfde!
7 Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.