10 Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ’n man, dat ons saam kan veg.
11 Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.
12 En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Ísai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne.
13 Maar die drie oudste seuns van Ísai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma.
14 Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het.
15 En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas.
16 En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank.