17 Toe het Ísai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers’n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe.
18 Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle ’n pand saambring.
19 En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom.
20 En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Ísai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan.
21 Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel.
22 Daarop gee Dawid sy pakgoed af onder bewaring van die oppasser van die pakgoed, en hy hardloop na die vegterrein. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers na die welstand.
23 En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter — Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat — uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor.