2 Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel.
3 En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was.
4 Toe kom daar ’n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ’n span.
5 Daar was ’n koperhelm op sy hoof, en hy het ’n pantser van skubbe aangehad — die gewig van die pantser was vyfduisend sikkels koper —
6 en skeenplate van koper was aan sy bene en ’n koperlans tussen sy skouers.
7 Die steel van sy spies was soos ’n wewersbalk, en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop.
8 En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle ’n man uit, dat hy na my toe afkom.