6 en skeenplate van koper was aan sy bene en ’n koperlans tussen sy skouers.
7 Die steel van sy spies was soos ’n wewersbalk, en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop.
8 En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle ’n man uit, dat hy na my toe afkom.
9 As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien.
10 Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ’n man, dat ons saam kan veg.
11 Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.
12 En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Ísai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne.