9 En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad.
10 Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ’n spies in sy hand hou.
11 Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee.
12 En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die Here met hom was en van Saul gewyk het.
13 Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit- en ingegaan het.
14 EN Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die Here was met hom.
15 Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword.