2 en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg.
3 Dan sal ek uitgaan en langs my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader oor jou spreek; en as ek iets sien, sal ek jou dit meedeel.
4 Jónatan het toe goed van Dawid gespreek by sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u gesondig het nie, en omdat sy handelwyse u geheel ten goede kom:
5 hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die Here het aan die hele Israel ’n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en u was bly; waarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid sonder oorsaak dood te maak?
6 En Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die Here leef, hy sal nie gedood word nie!
7 Daarop het Jónatan Dawid geroep, en Jónatan het al hierdie woorde aan hom meegedeel. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos gister en eergister.
8 En toe daar weer oorlog kom, het Dawid uitgetrek en teen die Filistyne geveg en ’n groot slag onder hulle geslaan, sodat hulle voor hom uit gevlug het.