1 TOE het Hanna gebid en gesê: My hart jubel in die Here, my horing is hoog in die Here; my mond is wyd oop oor my vyande, want ek verheug my in u verlossing.
2 Niemand is heilig soos die Here nie; ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie.
3 Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; want die Here is ’n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef.
4 Die boog van die helde is verbreek; maar die wat gestruikel het, is met krag omgord.
5 Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger gehad het, rus. Selfs die onvrugbare het sewe gebaar, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk.
6 Die Here maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom.