12 Daarop sê Jónatan vir Dawid: Die Here, die God van Israel, is getuie dat ek my vader môre of oormôre op hierdie tyd sal uitvra; en as dit gunstig is vir Dawid, sal ek dan nie na jou stuur en jou dit openbaar nie?
13 Mag die Here so aan Jónatan doen en so daaraan toedoen: as my vader goedvind om onheil oor jou te bring, dan sal ek jou dit openbaar en jou laat gaan, dat jy veilig kan wegkom; en mag die Here met jou wees soos Hy met my vader gewees het.
14 En sal jy my nie, as ek dan nog lewe, die guns van die Here bewys nie, sodat ek nie sterwe nie?
15 Jy sal ook nimmer aan my huis jou guns onttrek nie; wanneer die Here die vyande van Dawid, een vir een, van die aarde af uitroei nie.
16 So het Jónatan dan ’n verbond gesluit met die huis van Dawid. En die Here het dit geëis van die hand van Dawid se vyande.
17 En Jónatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel.
18 Verder het Jónatan vir hom gesê: Môre is dit nuwemaan, en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees.