7 en hy het aan sy manne gesê: Mag die Here my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die Here, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die Here.
8 En Dawid het sy manne streng bestraf en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie. En Saul het uit die spelonk uit opgestaan en sy koers gegaan.
9 Daarna staan Dawid ook op en gaan uit die spelonk uit en roep agter Saul aan en sê: My heer die koning! Toe Saul agter hom omkyk, buig Dawid met sy aangesig na die aarde toe en val neer.
10 En Dawid sê vir Saul: Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: Kyk, Dawid soek u onheil?
11 Kyk, vandag sien u eie oë dat die Here u vandag in die spelonk in my hand gegee het; en hulle het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u verskoon en gesê: Ek sal my hand nie uitsteek teen my heer nie, want hy is die gesalfde van die Here.
12 En kyk, my vader, ja, kyk die slip van u mantel in my hand! Want toe ek die slip van u mantel afgesny het, het ek u nie gedood nie. Erken en sien dat daar by my geen kwaad of oortreding is en ek nie teen u gesondig het nie, alhoewel u op my lewe loer om dit weg te neem.
13 Die Here sal oordeel tussen my en u, en die Here sal my aan u wreek; maar my hand sal teen u nie wees nie.