18 Toe het Abígail gou tweehonderd brode geneem en twee sakke wyn en vyf toebereide skape en vyf mate gebraaide koring en honderd rosynekoeke en tweehonderd vyekoeke en dit op esels gesit.
19 En sy het aan haar jongmanne gesê: Trek voor my uit; kyk, ek kom dadelik agter julle aan. Maar aan haar man Nabal het sy niks te kenne gegee nie.
20 En terwyl sy op die esel ry en in ’n kloof van die berg afdaal, kom Dawid en sy manne meteens af haar tegemoet, sodat sy hulle teëgekom het.
21 Dawid het al gedink: Net verniet het ek alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn beskerm, sodat daar nooit iets van sy goed vermis is nie; en hy vergeld my kwaad vir goed.
22 Mag God so aan die vyande van Dawid doen en so daaraan toedoen, as ek van almal wat aan hom behoort, tot môre een laat oorbly wat manlik is.
23 Toe Abígail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig.
24 En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op mý, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek, en luister na die woorde van u dienares.