23 Toe Abígail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig.
24 En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op mý, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek, en luister na die woorde van u dienares.
25 My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ’n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom. Maar wat my betref, u dienares het my heer se jongmanne wat u gestuur het, nie gesien nie.
26 En nou, my heer, so waar as die Here leef en u siel leef, dit is die Here wat u teruggehou het om in bloedskuld te geraak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word.
27 En laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek.
28 Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die Here sal sekerlik vir my heer ’n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die Here voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.
29 As ’n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die Here u God; maar mag Hy die siel van u vyande uit die holte van die slinger wegslinger.