15 En Dawid vra vir Abner: Jy is tog ’n man, en wie is soos jy in Israel? Waarom het jy dan nie by jou heer die koning wag gehou nie? Want een uit die volk het ingekom om die koning, jou heer, om te bring.
16 Hierdie ding is nie goed wat jy gedoen het nie! So waar as die Here leef, voorwaar, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het oor julle heer, oor die gesalfde van die Here nie. En kyk nou, waar is die spies van die koning en die waterkruik wat aan sy koppenent was!
17 Toe herken Saul die stem van Dawid en vra: Is dit jou stem daar, my seun Dawid? En Dawid sê: My stem, my heer die koning!
18 Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my?
19 Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die Here u teen my aanhits, bied Hom dan ’n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is — vervloek is hulle voor die aangesig van die Here, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die Here nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode!
20 Laat my bloed dan nou nie op die aarde val ver van die aangesig van die Here nie, want die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek, soos ’n man ’n patrys op die berge agtervolg.
21 Toe sê Saul: Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë; kyk, ek het dwaas gehandel en my grootliks misgaan.