1 EN Dawid het by homself gesê: Nou sal ek een van die dae omkom deur die hand van Saul; daar is vir my niks goeds nie, tensy ek dadelik ontsnap na die land van die Filistyne; dan sal Saul die hoop opgee om my langer in die hele grondgebied van Israel te soek, en ek sal uit sy hand ontsnap.
2 Dawid maak toe klaar, en hy saam met die seshonderd man wat by hom was, het deurgetrek na Agis, die seun van Maog, die koning van Gat.
3 En Dawid het by Agis gebly in Gat, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin; Dawid met sy twee vroue, Ahínoam uit Jísreël en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet.
4 Toe Saul tyding kry dat Dawid na Gat gevlug het, het hy verder nie meer na hom gesoek nie.
5 En Dawid het vir Agis gesê: As ek dan guns in u oë gevind het, laat hulle my tog ’n plek gee in een van die plattelandse stede, dat ek daar kan woon; waarom tog sou u dienaar in die koninklike stad by u woon?
6 Daarop gee Agis dieselfde dag Siklag aan hom; daarom het Siklag aan die konings van Juda behoort tot vandag toe.
7 En die getal dae wat Dawid in die land van die Filistyne gewoon het, was een jaar en vier maande.