9 En so dikwels as Dawid die land oorval, laat hy geen man of vrou lewe nie, en neem kleinvee en beeste en esels en kamele en klere saam. En as hy teruggaan en by Agis kom,
10 vra Agis: Waar het julle vandag ’n inval gedoen? Dan sê Dawid: In die Suidland van Juda en in die Suidland van die Jeragmeëliete en in die Suidland van die Keniete.
11 Maar geen man of vrou het Dawid laat lewe om dié na Gat te bring nie, want hy het gedink: Anders sal hulle ons aangee en sê: So het Dawid gehandel. En dit was sy manier al die dae wat hy in die land van die Filistyne gewoon het.
12 En Agis het Dawid vertrou en gesê: Hy het homself vir goed by sy volk, by Israel, gehaat gemaak en sal vir altyd my onderdaan wees.