15 En Dawid vra hom: Sal jy my afbring na hierdie bende? En hy sê: Sweer vir my by God dat u my nie sal doodmaak en my nie sal uitlewer in die hand van my heer nie; dan sal ek u afbring na hierdie bende.
16 En toe hy hom afgebring het, lê hulle daar verstrooid oor die oppervlakte van die hele land, besig om te eet en te drink en fees te vier met die ganse groot buit wat hulle uit die land van die Filistyne en uit die land Juda saamgeneem het.
17 En Dawid het hulle verslaan van die aandskemering af tot die aand van die volgende dag, sodat niemand van hulle vrygeraak het nie, behalwe vierhonderd jongmanne wat op kamele gespring en gevlug het.
18 So het Dawid dan alles gered wat die Amalekiete saamgeneem het; ook sy twee vroue het Dawid bevry.
19 Niks van hulle is vermis nie — klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles wat hulle vir hul saamgeneem het nie; Dawid het alles teruggebring.
20 En Dawid het al die kleinvee en beeste afgeneem. Hulle het hul voor die ander vee gedrywe en gesê: Dit is Dawid se buit.
21 Toe Dawid by die tweehonderd man kom wat te moeg was om agter Dawid aan te gaan en wat hulle by die spruit Besor laat bly het, trek hulle uit, Dawid en die manskappe wat by hom was, tegemoet; en Dawid het met die manskappe nader gekom en hulle na die welstand gevra.