17 En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook ’n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem.
18 Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig.
19 En sy skoondogter, die vrou van Pínehas, was vér heen in haar swangerskap. Toe sy dan die tyding hoor dat die ark van God geneem is, en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy haar krom gebuig en gebaar, want haar barensweë het haar oorval.
20 En terwyl sy op sterwe lê, sê die vroue wat by haar staan: Wees nie bevrees nie, want jy het ’n seun gebaar; maar sy het nie geantwoord en dit nie ter harte geneem nie,
21 maar die seuntjie Íkabod genoem en gesê: Weggevoer is die eer uit Israel — met die oog op die wegneming van die ark van God en met die oog op haar skoonvader en haar man.
22 En sy het gesê: Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.