3 Toe die Asdodiete vroeg die volgende môre daarheen gaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die Here. En hulle het Dagon geneem en hom weer op sy plek gesit.
4 Maar toe hulle die volgende môre vroeg opstaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die Here; maar die hoof van Dagon en sy twee handpalms lê afgebreek op die drumpel: net Dagon se lyf het aan hom oorgebly.
5 Daarom trap die priesters van Dagon en almal wat in die huis van Dagon ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon in Asdod nie.
6 Maar die hand van die Here was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied.
7 Toe die manne van Asdod sien dat dit so gaan, sê hulle: Die ark van die God van Israel mag nie by ons bly nie, want sy hand druk swaar op ons en op ons god Dagon.
8 Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne by hulle byeen laat kom en gevra: Wat moet ons met die ark van die God van Israel doen? En dié het gesê: Laat die ark van die God van Israel oorgaan na Gat toe. Daarop het hulle die ark van die God van Israel oorgebring.
9 En nadat hulle dit oorgebring het, was die hand van die Here teen die stad met ’n baie groot verwarring, en Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.