6 Waarom tog sal julle jul hart verhard soos die Egiptenaars en Farao hulle hart verhard het? Het hulle hul nie losgelaat om weg te trek toe Hy hulle sy mag laat voel het nie?
7 Neem dan nou wat nodig is en maak ’n nuwe wa; ook twee melkkoeie waar geen juk op gekom het nie; span dan die koeie in voor die wa en keer hulle kalwers agter hulle weg huis toe.
8 Neem dan die ark van die Here en sit dit op die wa, en die goue voorwerpe wat julle Hom as skuldoffer teruggee, moet julle in ’n kissie langsaan neerlê; stuur dit dan weg om heen te gaan.
9 En let op: As dit in die rigting van sy eie gebied na Bet-Semes opgaan, dan het Hy ons hierdie groot onheil aangedoen; maar so nie, dan weet ons dat sy hand ons nie getref het nie: dit het toevallig oor ons gekom.
10 Die manne doen toe so: hulle het twee melkkoeie geneem en dié voor die wa gespan en hulle kalwers by die huis agtergehou.
11 En hulle het die ark van die Here op die wa gesit en die kissie met die goue muise en die beelde van hulle geswelle.
12 En die koeie het reguit padlangs geloop in die rigting van Bet-Semes; hulle het op die een grootpad aldeur geloop en bulk sonder om regs of links uit te draai, terwyl die vorste van die Filistyne agter hulle aan gaan tot by die grens van Bet-Semes.