1 TOE het die manne van Kirjat-Jeárim gekom en die ark van die Here gaan haal en dit in die huis van Abinádab op die heuwel gebring; en hulle het sy seun Eleásar geheilig om die ark van die Here te bewaak.
2 EN van die dag af dat die ark in Kirjat-Jeárim gebly het, het daar geruime tyd verloop — dit was twintig jaar — en die hele huis van Israel het agter die Here aan geweeklaag.
3 Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astártes onder julle uit, en rig julle hart op die Here en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.
4 Daarop het die kinders van Israel die Baäls en die Astártes verwyder en die Here alleen gedien.
5 Verder het Samuel gesê: Versamel die hele Israel by Mispa, dan sal ek tot die Here vir julle bid.
6 Hulle kom toe bymekaar by Mispa, en hulle het water geskep en dit voor die aangesig van die Here uitgegiet, en dié dag het hulle gevas en daar gesê: Ons het gesondig teen die Here. En Samuel het die kinders van Israel in Mispa gerig.