10 Toe antwoord Elía en sê aan die owerste oor vyftig: As ek dan ’n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het vuur van die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.
11 En hy het weer ’n ander owerste oor vyftig met sy vyftig na hom gestuur; en die het begin spreek en vir hom gesê: Man van God, so sê die koning: Kom gou af!
12 Daarop antwoord Elía en sê vir hulle: As ek ’n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het die vuur van God uit die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.
13 En hy het weer ’n owerste van ’n derde vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En die derde owerste oor vyftig het opgeklim en aangekom en op sy knieë voor Elía gebuig en hom gesmeek en vir hom gesê: Man van God, laat tog my lewe en die lewe van u dienaars, hierdie vyftig, kosbaar wees in u oë!
14 Kyk, vuur het van die hemel neergedaal en die eerste twee owerstes oor vyftig met hulle vyftig verteer; maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë!
15 Toe sê die Engel van die Here vir Elía: Gaan saam met hom af; wees nie bevrees vir hom nie. En hy het opgestaan en saam met hom na die koning afgegaan
16 en met hom gespreek: So sê die Here: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg — is dit omdat daar glad geen God in Israel is om sy woord te raadpleeg nie? — daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.