1 EN Naäman, die leërowerste van die koning van Aram, was ’n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die Here aan die Arameërs ’n oorwinning gegee; en die man was ’n dapper held, maar melaats.
2 En die Arameërs het in bendes uitgetrek en uit die land van Israel ’n klein dogtertjie as gevangene weggevoer wat in diens van Naäman se vrou gekom het.
3 En sy het vir haar meesteres gesê: Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.
4 Toe gaan hy in en gee dit aan sy heer te kenne en sê: So en so het die dogtertjie gespreek wat uit die land van Israel kom.
5 En die koning van Aram sê: Gaan dan, ek wil ’n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het gegaan en tien talente silwer en sesduisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem,
6 en aan die koning van Israel die brief gebring van die volgende inhoud: Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naäman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem.
7 Sodra die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van ’n man sy melaatsheid weg te neem? Erken en sien tog net hoedat hy ’n geleentheid teen my soek.
8 Maar toe Elísa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, laat hy die koning weet: Waarom skeur u u klere? Laat hom maar na my kom; dan sal hy weet dat daar ’n profeet in Israel is.
9 So het Naäman dan gekom met sy perde en met sy waens en voor die deur van Elísa se huis stilgehou.
10 Toe stuur Elísa ’n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees.
11 Maar Naäman het baie kwaad geword en weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die Here sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem.
12 Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery.
13 Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u ’n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word?
14 Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ’n jong seun, en hy het rein geword.
15 Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog ’n geskenk aan van u dienaar.
16 Maar hy sê: So waar as die Here leef voor wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie! En hy het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier.
17 En Naäman het gesê: So nie, laat dan tog aan u dienaar ’n vrag grond gegee word, soveel as ’n paar muile kan dra; want u dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die Here.
18 Mag die Here in hierdie saak u dienaar vergewe: as my heer in die huis van Rimmon ingaan om hom daar neer te buig, terwyl hy op my hand leun, sodat ek my ook in die huis van Rimmon neerbuig — as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, mag die Here dan tog in hierdie saak u dienaar vergewe.
19 En hy sê vir hom: Gaan in vrede! Nadat hy ’n ent pad van hom weggetrek het,
20 sê Gehási, die dienaar van Elísa, die man van God: Kyk, my heer het hierdie Arameër Naäman verskoon deur nie uit sy hand aan te neem wat hy gebring het nie. So waar as die Here leef, sekerlik sal ek agter hom aan loop en iets van hom aanneem.
21 So het Gehási dan Naäman haastig gevolg. En toe Naäman een agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgespring hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed?
22 En hy antwoord: Dit gaan goed; my heer stuur my om te sê: Kyk, daar het nou net twee jongmanne, profete-seuns, van die gebergte van Efraim af, na my gekom. Gee aan hulle tog ’n talent silwer en twee stel klere.
23 En Naäman sê: Neem asseblief twee talente! En hy het by hom aangehou en twee talente silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met twee stel klere aan twee van sy dienaars gegee, wat dit voor hom uit gedra het.
24 En toe hy by die heuwel aankom, het hy dit uit hulle hand geneem en in die huis in bewaring gegee en die manne laat gaan; en hulle het weggegaan.
25 Toe hy dan inkom en by sy heer staan, sê Elísa vir hom: Vanwaar, Gehási? En hy antwoord: U dienaar het nêrens heengegaan nie.
26 Maar hy sê vir hom: Het my hart nie saamgegaan toe ’n man van sy wa af omgedraai het jou tegemoet nie? Is dit tyd om die silwer te neem en om klere te neem en olyfbome en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne?
27 Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.