3 kyk dan uit na die beste en betroubaarste van die seuns van julle heer, en sit hom op die troon van sy vader en veg vir die huis van julle heer.
4 Maar hulle het vreeslik bang geword en gesê: Kyk, twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe sou ons dan kan standhou?
5 Toe laat die owerste oor die paleis en die owerste oor die stad en die oudstes en die opvoeders aan Jehu dít weet: Ons is u dienaars, en alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë.
6 Daarop het hy vir die tweede maal ’n brief aan hulle geskrywe en gesê: As julle vir my is en my gehoorsaam wil wees, neem dan die hoofde van die manne, die seuns van julle heer, en kom môre omtrent sulke tyd na my in Jísreël; want die seuns van die koning, sewentig man, was by die grotes van die stad wat hulle grootgemaak het.
7 En toe die brief by hulle kom, het hulle die seuns van die koning geneem en hulle gedood, sewentig man, en hulle hoofde in mandjies gesit en aan hom na Jísreël gestuur.
8 En toe die boodskapper kom en hom berig bring en sê: Hulle het die hoofde van die koning se seuns gebring, sê hy: Sit hulle in twee hope neer by die ingang van die poort tot môre toe.
9 En in die môre het hy uitgegaan en gaan staan en aan die hele volk gesê: Julle is onskuldig. Kyk, ék het ’n sameswering gesmee teen my heer en hom vermoor, maar wie het al hierdie manne doodgeslaan?