10 En Sallum, die seun van Jabes, het ’n sameswering teen hom gesmee en hom voor die oë van die volk verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.
11 En die verdere geskiedenis van Sagaría, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
12 Dit was die woord van die Here wat Hy tot Jehu gespreek het, naamlik: Seuns van die vierde geslag sal vir jou op die troon van Israel sit. En dit was so.
13 Sallum, die seun van Jabes, het in die negen-en-dertigste jaar van Ussía, die koning van Juda, koning geword en ’n maand lank in Samaría geregeer.
14 Daarna het Menáhem, die seun van Gadi, van Tirsa opgetrek en in Samaría gekom en Sallum, die seun van Jabes, in Samaría verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.
15 En die verdere geskiedenis van Sallum en sy sameswering wat hy gesmee het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
16 Toe het Menáhem Tifsag verslaan met almal wat daarin was, en die grondgebied daarvan, van Tirsa af; omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie; hy het dit verslaan en al die swanger vroue daarvan laat oopsny.