3 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here, net soos sy vader Amásia gedoen het.
4 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan.
5 En die Here het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe; en hy het in ’n afgesonderde huis gewoon, terwyl Jotam, die seun van die koning, oor die paleis was en reg gespreek het oor die volk van die land.
6 En die verdere geskiedenis van Asárja en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
7 En Asárja het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en sy seun Jotam het in sy plek koning geword.
8 IN die agt-en-dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Sagaría, die seun van Jeróbeam, oor Israel koning geword in Samaría — ses maande lank.
9 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here soos sy vaders gedoen het; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.