23 En hy het hulle ’n groot maaltyd berei; en nadat hulle geëet en gedrink het, laat hy hulle gaan; en hulle het na hul heer getrek. En die bendes van die Arameërs het verder nie meer in die land van Israel gekom nie.
24 EN daarna het Bénhadad, die koning van Aram, sy hele leër versamel en opgetrek en Samaría beleër.
25 En daar was ’n groot hongersnood in Samaría, want hulle het dit beleër totdat ’n eselskop tagtig sikkels silwer en ’n kwart-kab duiwemis vyf sikkels silwer werd was.
26 En terwyl die koning op die muur verbygaan, roep ’n vrou na hom en sê: Help, heer koning!
27 Maar hy antwoord: As die Here jou nie help nie, waarvandaan moet ek jou dan help? Van die dorsvloer of van die parskuip?
28 Verder sê die koning vir haar: Wat is dit met jou? En sy antwoord: Hierdie vrou het vir my gesê: Gee jou seun, dat ons hom vandag eet; dan kan ons môre my seun eet.
29 So het ons dan my seun gekook en hom geëet; maar toe ek die volgende dag vir haar sê: Gee jou seun, dat ons hom eet — het sy haar seun weggesteek.