25 En daar was ’n groot hongersnood in Samaría, want hulle het dit beleër totdat ’n eselskop tagtig sikkels silwer en ’n kwart-kab duiwemis vyf sikkels silwer werd was.
26 En terwyl die koning op die muur verbygaan, roep ’n vrou na hom en sê: Help, heer koning!
27 Maar hy antwoord: As die Here jou nie help nie, waarvandaan moet ek jou dan help? Van die dorsvloer of van die parskuip?
28 Verder sê die koning vir haar: Wat is dit met jou? En sy antwoord: Hierdie vrou het vir my gesê: Gee jou seun, dat ons hom vandag eet; dan kan ons môre my seun eet.
29 So het ons dan my seun gekook en hom geëet; maar toe ek die volgende dag vir haar sê: Gee jou seun, dat ons hom eet — het sy haar seun weggesteek.
30 En toe die koning die woorde van die vrou hoor, skeur hy sy klere, terwyl hy op die muur verder loop — die mense het gesien hoe daar ’n roukleed onder op sy liggaam was —
31 en hy sê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen, as die hoof van Elísa, die seun van Safat, vandag op hom sal bly staan.