29 En in die elfde jaar van Joram, die seun van Agab, het Ahásia koning oor Juda geword.
30 En Jehu het in Jísreël gekom. Toe Isébel dit hoor, het sy haar oë swart geverf en haar hoof versier en deur die venster uitgekyk.
31 Terwyl Jehu deur die poort inkom, sê sy: Gaan dit goed, Simri, moordenaar van jou heer?
32 En hy het opgekyk na die venster en gevra: Wie is vir my, wie? Toe kyk twee, drie hofdienaars uit na hom;
33 en hy sê: Gooi haar af! En hulle het haar afgegooi, sodat van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat het, en hy het haar vertrap.
34 En nadat hy ingegaan en geëet en gedrink het, sê hy: Kyk tog om na dié vervloekte en begrawe haar, want sy is ’n koningsdogter.
35 Maar toe hulle gaan om haar te begrawe, kry hulle van haar niks nie as net die hoofskedel en die voete en die handpalms.