13 En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die Here! En Natan sê vir Dawid: So het die Here dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.
14 Maar omdat u die vyande van die Here deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.
15 Toe gaan Natan na sy huis. En die Here het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.
16 En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het ’n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê.
17 Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie.
18 En op die sewende dag het die kind gesterwe; en die dienaars van Dawid was bevrees om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, toe die kind nog in die lewe was, het ons met hom gespreek, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: Die kind is dood! — hy kan ’n verkeerde ding doen.
19 Maar toe Dawid sien dat sy dienaars onder mekaar fluister, het Dawid gemerk dat die kind dood was. En Dawid sê aan sy dienaars: Is die kind dood? En hulle antwoord: Hy is dood.