3 Maar die manskappe het gesê: U mag nie uittrek nie, want as ons miskien vlug, sal hulle nie op ons ag gee nie; ja, al sterwe die helfte van ons, hulle sal nie op ons ag gee nie, want u is soos tienduisend van ons. Dit is dan nou beter dat u ons van die stad uit te hulp kom.
4 Toe sê die koning vir hulle: Wat goed is in julle oë, sal ek doen. En die koning het langs die poort gaan staan, terwyl al die manskappe by honderde en by duisende uittrek.
5 En die koning het Joab en Abísai en Íttai bevel gegee en gesê: Saggies met die jongman, met Absalom. En al die manskappe het gehoor toe die koning aan al die owerstes bevel gee omtrent Absalom.
6 Daarop trek die manskappe uit, die veld in om Israel te ontmoet; en die geveg het plaasgevind in die bos van Efraim.
7 En die manskappe van Israel is daar voor die dienaars van Dawid verslaan, en die neerlaag was dié dag daar groot, twintigduisend.
8 Maar die geveg is daar uitgebrei oor die oppervlakte van die hele land, en die bos het daardie dag onder die mense meer verteer as wat die swaard verteer het.
9 En die dienaars van Dawid het Absalom onverwags aangetref terwyl Absalom op ’n muil ry; en toe die muil onder die digte takke van ’n groot terpentynboom ingaan, het sy hoof in die terpentynboom vasgehaak, sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het, terwyl die muil onder hom wegloop.