21 As dié gaan, gaan hulle; en as dié bly staan, staan hulle; en as dié hulle van die grond af ophef, word die wiele gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wesens was in die wiele.
22 En oor die hoofde van die wesens was iets in die vorm van ’n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor hulle hoofde uitgesprei.
23 En onder die uitspansel heen was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek; en elkeen het twee gehad wat duskant en anderkant hul liggame bedek het.
24 En as hulle gaan, het ek die geruis van hulle vlerke gehoor soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige — ’n gedruis soos die gedreun van ’n leër. As hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak.
25 En daar het ’n stem gekom bo van die uitspansel af wat oor hulle hoof was; as hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak.
26 En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ’n troon; en op die troongestalte ’n gestalte wat soos ’n mens gelyk het.
27 Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ’n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ’n glans daaromheen.