1 DAARNA het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar.
2 En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit.
3 Toe die man na die ooste uitgegaan het met ’n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels.
4 Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe.
5 Verder het hy nog duisend gemeet — ’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem, ’n stroom waar ’n mens nie deur kan loop nie.
6 En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom.
7 Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ’n menigte bome gesien, aan altwee kante.
8 En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word.
9 En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ’n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom.
10 Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by En-Eglaim: ’n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, ’n menigte.
11 Die moerasse en kuile daarvan — húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem.
12 En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.
13 SO sê die Here Here: Dit moet die grondgebied wees waarin julle die land as erfdeel sal verwerf volgens die twaalf stamme van Israel — vir Josef twee dele.
14 En julle moet dit erwe, die een soos die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land moet julle as erfenis toeval.
15 En dit moet die grens van die land wees: aan die noordekant van die Groot See af, langs die weg van Hetlon, tot by die ingang na Sedad toe:
16 Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die gebied van Damaskus en die gebied van Hamat lê, die middelste Haser, wat op die grens van Hauran is.
17 So moet dan die grens van die See af wees tot by Hasar-Enon, die gebied van Damaskus, en wat die noorde betref noordwaarts, is Hamat die grens; dit is die noordekant.
18 En aan die oostekant: tussen Hauran en Damaskus en Gílead en die land van Israel uit — die Jordaan; van dié grens af tot by die Oostelike See moet julle dit meet; dit is die oostekant.
19 En aan die suidekant na die suide toe van Tamar af tot by die twiswaters van Kades, dan na die spruit van Egipte tot by die Groot See; dit is die suidekant na die suide toe.
20 En aan die westekant die Groot See, van die grens af tot reg teenoor die plek waar die ingang na Hamat is; dit is die westekant.
21 En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel.
22 En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ’n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ’n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel.
23 En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here Here.