40 Dan sal hulle teen jou ’n menigte laat optrek en jou stenig en jou met hulle swaarde stukkend kap.
41 Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal ’n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.
42 En Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen jou — dan sal my ywer van jou afwyk, en Ek sal stil word en nie meer toornig wees nie.
43 Omdat jy nie gedink het aan die dae van jou jeug nie en my toorn opgewek het met al hierdie dinge — kyk, so sal Ek dan ook jou wandel op jou hoof laat neerkom, spreek die Here Here; en het jy dan nie die skandelike daad gedoen bo al jou gruwels nie?
44 Kyk, elkeen wat spreekwoorde maak, sal ’n spreuk op jou toepas, naamlik: Soos die moeder, so haar dogter.
45 Jy is die dogter van jou moeder, wat ’n afsku gehad het van haar man en haar kinders; en jy is die suster van jou susters, wat ’n afsku gehad het van hulle mans en hulle kinders: julle moeder was ’n Hetitiese vrou, en julle vader ’n Amoriet.
46 En jou groot suster is Samaría, sy met haar dogters wat woon aan jou linkerkant; maar jou suster wat kleiner as jy is, wat aan jou regterkant woon, is Sodom met haar dogters.