1 EN in die negende jaar, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het die woord van Here tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, skrywe vir jou die naam van die dag, van hierdie selfde dag, op. Die koning van Babel het hom hierdie selfde dag op Jerusalem gewerp.
3 En dra aan die wederstrewige huis ’n gelykenis voor en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Sit die pot op, sit dit op, en gooi ook water daarin.
4 Sit sy stukke almal daarin, al die goeie stukke, die boud en die blad; maak dit vol met die beste bene.
5 Neem die beste van die kleinvee, en ook ’n stapel hout daaronder; laat dit sterk opborrel; ook moet die bene daarin kook.
6 Daarom, so sê die Here Here: Wee die bloedstad, die pot waar roes in is en waarvan die roes nie afgegaan het nie. Haal stuk vir stuk daaruit; geen lot is daaroor gewerp nie.
7 Want die stad se bloed is binne-in hom; op ’n kaal rots het hy dit neergesit; hy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met stof te bedek nie.