3 en sê aan Tirus, wat woon by die ingange van die see, wat handel drywe met die volke na baie kuslande toe: So spreek die Here Here: o Tirus, jy sê: Ek is volmaak in skoonheid.
4 In die hart van die seë is jou gebied; jou boumeesters het jou skoonheid volkome gemaak.
5 Van sipresse uit Senir het hulle vir jou al die plankwerk gebou; ’n seder uit Líbanon het hulle geneem om op jou ’n mas te maak.
6 Van eikebome uit Basan het hulle jou roeispane gemaak; jou dek het hulle gemaak uit ivoor, ingelê in dennehout uit die kuslande van die Kittiërs.
7 Veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou as vlag te dien; pers en purper stowwe uit die kuslande van Elísa was jou hutbedekking.
8 Die inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers; jou wyse manne was in jou, o Tirus, hulle was jou stuurmanne.
9 Die oudstes van Gebal en sy wyse manne was in jou om jou lekplekke reg te maak; al die skepe van die see en hulle seevaarders was in jou om jou koopware te verhandel.