2 Mensekind, sê aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy menigte: Na wie lyk jy in jou grootheid?
3 Kyk, Assur was ’n seder op die Líbanon, skoon van takke en ’n skaduryke bos en hoog van groei; en sy top was tussen die wolke.
4 Waters het hom grootgemaak; die watervloed het hom hoog laat groei, wat met sy strome gegaan het rondom die plek waar hy geplant was, en sy watervore uitgestuur het na al die bome van die veld.
5 Daarom het hy hoër gegroei as al die bome van die veld, en het sy takke baie geword en sy takkies lank, weens die groot waters toe hy uitgeskiet het.
6 Al die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke, en al die wilde diere van die veld het onder sy takkies aangeteel, en allerhande groot volke het onder sy skaduwee gaan sit.
7 En hy het skoon geword in sy grootheid, in die lengte van sy takke, omdat sy wortel by groot waters was.
8 Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie, en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie.