23 Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
24 Mensekind, die bewoners van daardie puinhope in die land van Israel spreek en sê: Abraham was ’n eenling, en tog het hy die land as besitting ontvang; maar ons is baie; aan ons is die land as besitting gegee!
25 Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here Here: Julle eet vleis saam met die bloed en slaan julle oë op na jul drekgode en vergiet bloed — en sal julle die land as besitting ontvang?
26 Julle steun op jul swaard, julle doen gruwels en verontreinig elkeen die vrou van sy naaste — en sal julle die land as besitting ontvang?
27 So moet jy vir hulle sê: So spreek die Here Here: So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal gewis deur die swaard val; en hom wat op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word; en die wat in die vestings en in die spelonke is, sal deur die pes sterwe.
28 En Ek sal die land ’n wildernis en ’n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal ’n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees sonder dat iemand daar oorgaan.
29 Dan sal hulle weet dat Ek die Here is, as Ek die land ’n wildernis en ’n woesteny maak oor al hul gruwels wat hulle bedryf het.