1 EN jy, mensekind, profeteer tot die berge van Israel en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die Here!
2 So sê die Here Here: Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en: Die ewige hoogtes het vir ons ’n besitting geword! —
3 daarom profeteer en sê: So spreek die Here Here: Omdat, ja, omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies ’n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is —
4 daarom, o berge van Israel, hoor die woord van die Here Here. So spreek die Here Here tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale, tot die verwoeste puinhope en die verlate stede wat ’n buit en ’n spot geword het vir die oorblyfsel van die nasies wat rondom is —
5 daarom, so sê die Here Here: Waarlik, in die vuur van my ywer spreek Ek teen die oorblyfsel van die nasies en teen die hele Edom wat my land vir hulleself as besitting bestem het — in volle vreugde van die hart, met diepste veragting — sodat die weiveld daarvan ’n buit sou wees.
6 Daarom, profeteer oor die land van Israel, en spreek tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale: So spreek die Here Here: Kyk, Ek spreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die smaad van die nasies gedra het.