7 Hou jou reg en maak jou klaar, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het; en wees vir hulle ’n leidsman.
8 Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ’n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het — ja, dit is uit die volke uitgebring, en hulle woon almal in veiligheid.
9 Dan sal jy optrek soos ’n onweer wat aankom, jy sal wees soos ’n wolk om die land te oordek, jy en al jou leërs en baie volke saam met jou.
10 So sê die Here Here: In dié dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ’n listige plan beraam
11 en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie;
12 om buit te maak en roof te rowe, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, en teen ’n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon.
13 Skeba en Dedan en die koopmans van Tarsis en al sy jong leeus sal vir jou sê: Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om roof te rowe? Om silwer en goud weg te dra, om vee en goed weg te neem, om ’n groot buit te maak?