21 En sy sykamers was drie aan die een en drie aan die ander kant; en sy deurposte en sy voorportaal het dieselfde afmeting gehad as by die eerste poort: vyftig el sy lengte en die breedte vyf-en-twintig el.
22 En sy vensters en sy voorportaal en sy palmbome het dieselfde afmeting gehad as by die poort waarvan die voorkant na die ooste lê: en ’n mens kon daarin opklim met sewe trappe; en sy voorportaal was daarvoor.
23 En daar was ’n poort na die binneste voorhof teenoor die poort na die noorde en na die ooste; en hy het gemeet van poort tot poort: honderd el.
24 Daarop het hy my na die suide laat gaan; en kyk, daar was ’n poort na die suide; en hy het sy deurposte en sy voorportaal gemeet volgens die vorige afmetinge.
25 En dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom soos die vorige vensters; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.
26 En sy trap het sewe trappies gehad, en sy voorportaal was daarvoor; en dit het palmbome gehad, een aan die een en een aan die ander kant, op sy deurposte.
27 Ook was daar ’n poort na die binneste voorhof na die suide; en hy het van poort tot poort gemeet, na die suide: honderd el.