4 Daarop het hy my gebring na die noordpoort, aan die voorkant van die huis; ek kyk toe en sien dat die heerlikheid van die Here die huis van die Here vervul; toe het ek op my aangesig geval.
5 En die Here het vir my gesê: Mensekind, gee ag daarop en kyk met jou oë en hoor met jou ore alles wat Ek jou sal sê aangaande al die verordeninge van die huis van die Here en al die wette daarvan; en gee ag op die ingang in die huis deur al die uitgange van die heiligdom.
6 En sê aan die wederstrewiges, aan die huis van Israel: So spreek die Here Here: Laat dit genoeg wees met al julle gruwels, o huis van Israel!
7 Omdat julle uitlanders ingebring het, onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees, om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig; toe julle my brood, vet en bloed gebring, en hulle my verbond verbreek het by al julle gruwels.
8 En julle het die diens van my heilige gawes nie waargeneem nie, maar het hulle aangestel om my diens in my heiligdom vir julle waar te neem.
9 So sê die Here Here: Geen uitlander, onbesnede van hart en onbesnede van vlees, mag in my heiligdom ingaan, van al die uitlanders wat onder die kinders van Israel is nie.
10 Maar die Leviete wat ver van My afgewyk het by die afdwaling van Israel, wat van My af weggedwaal het agter hulle drekgode aan, hulle moet hul ongeregtigheid dra: