7 Omdat julle uitlanders ingebring het, onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees, om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig; toe julle my brood, vet en bloed gebring, en hulle my verbond verbreek het by al julle gruwels.
8 En julle het die diens van my heilige gawes nie waargeneem nie, maar het hulle aangestel om my diens in my heiligdom vir julle waar te neem.
9 So sê die Here Here: Geen uitlander, onbesnede van hart en onbesnede van vlees, mag in my heiligdom ingaan, van al die uitlanders wat onder die kinders van Israel is nie.
10 Maar die Leviete wat ver van My afgewyk het by die afdwaling van Israel, wat van My af weggedwaal het agter hulle drekgode aan, hulle moet hul ongeregtigheid dra:
11 hulle moet dienaars wees in my heiligdom, as wagte by die poorte van die huis en bedienaars van die huis; hulle moet die brandoffer en die slagoffer vir die volk slag en voor hulle staan om hulle te dien.
12 Omdat hulle hul gedien het voor hulle drekgode en vir die huis van Israel ’n struikelblok tot ongeregtigheid was, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef, spreek die Here Here, sodat hulle hul ongeregtigheid moet dra.
13 En hulle mag nie nader kom na My toe om die priesteramp vir My te bedien nie en om nader te kom na al my heilige gawes, na die hoogheilige gawes nie; maar hulle moet hul skande dra en hul gruwels wat hulle bedryf het.