10 En die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.
11 Verder moet op die feeste en op die feestye die spysoffer wees: ’n efa vir ’n bul en ’n efa vir ’n ram, maar vir die lammers, wat sy hand kan gee; en ’n hin olie vir ’n efa.
12 En as die vors ’n vrywillige offer gereedmaak, ’n brandoffer of dankoffers as vrywillige offer aan die Here, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan het.
13 Verder moet jy ’n jaaroud lam sonder gebrek daagliks berei as brandoffer aan die Here; elke môre moet jy dit berei.
14 En jy moet elke môre daarby as spysoffer gereedmaak: ’n sesde van ’n efa en ’n derde van ’n hin olie om die fynmeel te bevogtig, as spysoffer aan die Here — ewige insettinge, altyddeur.
15 So moet hulle dan die lam en die spysoffer en die olie elke môre berei as ’n voortdurende brandoffer.
16 So sê die Here Here: As die vors aan een van sy seuns ’n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis.