9 en om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie.
10 Daarom sal die vaders die kinders opeet in jou midde, en die kinders sal hulle vaders opeet; en Ek sal strafgerigte oefen in jou midde en sal al wat van jou oorbly, na al die windstreke verstrooi.
11 Daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, omdat jy my heiligdom verontreinig het met al jou verfoeisels en met al jou gruwels, sal Ék My ook onttrek; my oog sal nie verskoon nie, en Ék sal ook nie spaar nie.
12 ’n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ’n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ’n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek.
13 So sal dan my toorn uitwoed, en Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen hulle en aan My voldoening verskaf; en hulle sal weet dat Ek, die Here, in my ywer gespreek het as Ek my grimmigheid teen hulle laat uitwoed.
14 En Ek sal jou ’n puinhoop en ’n voorwerp van smaad maak onder die nasies wat rondom jou is, voor die oë van almal wat verbygaan.
15 En dit sal ’n voorwerp van smaad en skimp wees, ’n waarskuwing en ’n voorwerp van verbasing vir die nasies wat rondom jou is, as Ek strafgerigte in jou oefen in toorn en grimmigheid en in grimmige strawwe; Ek, die Here, het dit gespreek.